Chemiese reaksie

'n Thermietreaksie met yster(III)oksied. Die vonke wat uitwaarts vlieg is bolle van gesmelte yster-sleeprook

'n Chemiese reaksie is 'n proses waarin die chemiese binding van een of meer stowwe dusdanig gewysig word dat een of meer nuwe chemiese verbindings gevorm word.

Klassiek gesproke behels chemiese reaksies veranderinge wat slegs die posisies van elektrone behels in die vorming en verbreking van chemiese bindings tussen atome, sonder verandering aan die kerne (geen verandering aan die elemente wat teenwoordig is nie), en kan dikwels deur 'n chemiese vergelyking beskryf word. Kernchemie is 'n subdissipline van chemie wat die chemiese reaksies behels van onstabiele en radioaktiewe elemente waar elektroniese en kernveranderings kan plaasvind.

Die stof (of stowwe) wat aanvanklik in 'n chemiese reaksie betrokke was, word reaktante of reagense genoem. Chemiese reaksies word gewoonlik gekenmerk deur 'n chemiese verandering, en dit lewer een of meer produkte op, wat gewoonlik verskillende eienskappe het as die reaktante. Reaksies bestaan dikwels uit 'n reeks individuele sub-stappe, die sogenaamde elementêre reaksies, en die inligting oor die presiese verloop van die werking vorm deel van die reaksiemeganisme. Chemiese reaksies word beskryf met chemiese vergelykings, wat die uitgangsmateriaal, eindprodukte, en soms intermediêre produkte en reaksietoestande simbolies voorstel.

Chemiese reaksies vind plaas teen 'n kenmerkende reaksietempo by 'n gegewe temperatuur en chemiese konsentrasie. Tipies neem reaksiesnelhede toe met toenemende temperatuur omdat daar meer termiese energie beskikbaar is om die aktiveringsenergie te bereik wat nodig is om bindings tussen atome te verbreek.

Reaksies kan in die voorwaartse of terugwaartse rigting voortgaan totdat dit voltooi is of 'n ewewigspunt bereik word. Reaksies wat in die voorwaartse rigting beweeg om ewewig te benader, word dikwels as spontaan beskryf, en benodig geen toevoer van vrye energie om vorentoe te gaan nie. Nie-spontane reaksies benodig vrye energie om vooruit te gaan.

Tydens chemiese sintese word verskillende chemiese reaksies in kombinasies gebruik om 'n gewenste produk te verkry. In biochemie vorm 'n opeenvolgende reeks chemiese reaksies (waar die produk van een reaksie die reaktant van die volgende reaksie is) 'n metaboliese "pad" or "weg". Hierdie reaksies word dikwels gekataliseer deur proteïenensieme. Ensieme verhoog die tempo van biochemiese reaksies, sodat metaboliese sintese en ontbindings, wat onder normale omstandighede onmoontlik is, kan voorkom teen die temperature en konsentrasies wat in 'n sel teenwoordig is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search